Hierdie is ‘n kort inleiding tot terapie en hoe ons moontlik sal kan saamwerk, asook wat jy kan verwag om te sorg dat dit ‘n verrykende en hulpsame ervaring is. Terapie is geneig om the ontwikkel tydens ‘n paar verskillende fases. Om hierdie fases te verstaan sal help om te sorg dat mens meer uit die proses kry. Gewoonlik begin ons met ‘n fase van evaluasie waar ons mekaar sal leer ken en uitvind hoe om ons tyd saam die beste te benut. In die terapeutiese fase werk ons aan die doelwitte wat ons in die evaluasie fase geïdentifiseer het. Dit is belangrik om te verstaan dat, alhoewel terapie persoonlike groei in die lang termyn kan bewerskstelling, dit wel ontstellend in die kort termyn kan wees. Suksesvolle terapie kan ook ontstellende nagevolge hê vir mense in jou lewe. Terapie bewerkstellig soms verandering in jou persoonlike lewe. Mense na aan jou mag dit dalk moeilik vind om aan te pas tot die veranderings wat jy kies om te maak. Terapie sal waarskynlik beter werk vir jou as jy vry voel om enige uitdagings wat jy gedurende die proses ervaar met my te bespreek, hetsy oor die proses of die inhoud van wat ons bespreek. Terapie kan soms intense emosies ontlok. Om hierdie rede is dit belangrik dat jy heeltemal gemaklik voel om te praat oor enige dilemmas of uitdagings wat jy ervaar terwyl ons saam werk. Jy of ek mag enige tyd oorweeg dat dit beter is om terapie te staak, weens verskeie redes. Noem dit asseblief indien jy voel dat dit beter is om terapie te staak, sodat ons dit kan afsluit op ‘n manier wat jou in staat stel om soveel as moontlik uit die proses te kry.
My persoonlike en professionele etiese kode vereis dat ek alles wat jy sê, vertroulik hou. My notas word toegesluit en ek sal slegs inligting uitgee met jou toestemming (dit sluit jou lewensmaat, familielede, of enige iemand anders in). Jy is natuurlik welkom om jou terapie met andere te bespreek soos jy goed dink. Vertroulikheid geld net vir my as jou sielkundige. Daar is slegs 3 uitsonderings tot vertroulikheid vir noodgevalle. Lees asseblief hierdie 3 uitsonderings in die volgende ‘vraag en antwoord’.
Daar is slegs 3 uitsonderings tot vertroulikheid. Indien ek rede het om te glo dat jy (1) ‘n gevaar is vir jouself of (2) ‘n gevaar is vir iemand anders, dan word ek wetlik verplig om iemand in kennis te stel. Ek mag dalk iemand waarsku om jou veiligheid, of die veiligheid van iemand anders te beskerm. Dit beteken nie dat jy nie gedagtes rondom skade aan jouself (of skade aan iemand anders) met my kan bespreek nie. Dit beteken bloot dat ek wetlik verplig is om iemand te waarsku indien ek dink dat daar ‘n werklike risiko is dat jy hierdie gedagtes in dade gaan oorsit. Indien jy probleme met die gereg het (3) mag ek moontlik gedagvaar word, wat beteken dat ek wetlik verplig kan word om inligting oor ons werk te deel. Indien enige van die bogenoemde ooit gebeur sal ek alles in my vermoë doen om jou gedurende die proses ingelig te hou. Die realiteit in my praktyk is dat ek selde vertroulikheid moet breek, gewoonlik net om te verseker dat my kliënt veilig is in ‘n noodgeval. Ek het nog altyd dit eers met die kliënt self bespreek voordat ek die stap geneem het om ‘n derde party in te lig.
Ek sien kliënte gewoonlik een maal per week. Nader aan die einde van die proses mag ek moontlik die skedule verander na een maal elke twee weke. Dit is onmoontlik vir my om te voorspel hoeveel sessies ons sal nodig hê. Indien jy net ‘n beperkte hoeveelheid sessies kan bywoon, bespreek dit asseblief met my sodat ons die gang van terapie kan beplan om te verseker dat jy die meeste voordeel uit die proses kry.
Sessies word geboek vir 60 minute. Ek spandeer 5-10 minute aan die einde van elke sessie om privaat notas te maak en te reflekteer op wat in die sessie gebeur het. Dit laat my toe om te dink oor wat vir jou van waarde was in die sessie, asook om ons werk vir die toekoms te beplan. Gedurende terapie kan dit moeilik wees om na die groter prentjie te kyk en terselfdertyd ook mooi te luister na wat jy sê. Dit kan van groot waarde vir beide van ons wees waneer ek na die sessie vir ‘n paar minute aan jou en jou uitdagings kan dink.
Ek vra ‘n kontant fooi van R850 per sessie vir private kliënte. Hierdie is ‘n verlaagde kontant fooi en is betaalbaar die dag voor die afspraak via elektroniese oorbetaling, of op die dag van die afspraak in kontant. Praat gerus met ons indien jy probleme het met betaling. Ons behoort ‘n oplossing vir betalingsprobleme te kry om te verhoed dat dit in die pad van ons terapeutiese werk staan. Ons sou verkies om ‘n reëling met jou te tref oor betaling van jou rekening, eerder as om uitstaande rekeninge te oorhandig aan ‘n regsfirma. Neem asseblief kennis dat jy ‘n rekening sal ontvang vir afsprake wat in minder as 24 uur gekanselleer word. Sien asseblief die ‘Vraag en Antwoord’ oor kansellasies vir meer inligting.
My praktyk is in-gekontrakteur by die mediese fondse. Ons eis direk van jou mediese fonds deur ‘n elektroniese stelsel. Daar is groot verskille tussen die mediese fondse oor hoeveel van my dienste hulle bereid is om te dek. Dit is ‘n goeie idee om so vroeg as moontlik by jou fonds seker te maak. Vind uit hoeveel van my sessie fooi hulle sal betaal en hoeveel 60 minute psigoterapie sessies by ‘n sielkundige gedek is. Indien jou mediese fonds, om enige rede, nie jou eis betaal nie, sal jy verantwoordelik bly vir die rekening teen die kontant fooi. Ongelukkig het ons nie toegang tot inligting oor jou mediese fonds rekening nie. Neem asseblief die tyd om jou mediese fonds persoonlik te kontak om bogenoemde inligting te bekom. Soms vereis mediese fondse ‘n diagnose voor hulle ‘n sielkundige se rekening sal betaal. Sommige fondse mag weier om ‘n rekening te betaal sonder ‘n diagnose. Bespreek gerus met my die diagnose op jou rekening en enige implikasies daarvan.
Jy is welkom om ‘n afspraak te kanselleer, mits jy dit ten minste 24 uur voor die afspraak doen. Ons afspraak beteken dat jy ‘n spesifieke 60 minute tydsgleuf bespreek het. Indien jy nie die afspraak kan bywoon nie, laat weet ons asseblief ten minste 24 uur voor die begintyd van die afspraak. Jy sal nie ‘n rekening ontvang vir afsprake wat (om enige rede) vroegtydig gekanseleer is nie. Indien jy nader as 24 uur voor die afspraak kanseleer sal jy verantwoordelik bly vir die koste van die afspraak.
Indien jy ‘n afspraak laat kanselleer (en mits ek ‘n oop tydgleuf het later in die week) kan ons die afspraak aanskuif en jy sal nie ‘n rekening ontvang vir die afspraak wat jy gemis het nie. Dit sal natuurlik nie altyd moontlik wees nie, afhangende van hoe vol my dagboek is. Indien ek vol geboek is sal jy steeds aanspreeklik wees vir die afspraak wat jy gemis het. Dit sal natuurlik moeiliker wees om ‘n vervangings afspraak te maak nader aan die einde van die werksweek.
Jy mag dalk ander professionele persone sien oor dieselfde probleem wat jou hierheen gebring het. Dit is belangrik dat hierdie persone weet dat ons saam werk omdat dit dalk ‘n invloed op hul werk met jou mag hê. Op dieselfde manier sal ek graag wil weet of jy tans enige gesondheidsprobleme het wat dalk jou simtome mag beïnvloed. Ek sal graag jou toestemming wil hê om met jou dokter of ander spesialiste te praat. Laat weet my asseblief as dit vir jou problematies is. My korrespondensie aan ander spesialiste is minimaal en sal nie onnodige persoonlike inligting insluit nie. Ek sal altyd jou toestemming kry en jou inlig voordat ek inligting met ‘n ander spesialis deel.
Nog vrae? Kontak my
Fontana Gesondheidsentrum is oop vir die maak van afsprake, navrae oor rekeninge en algemene administrasie:
Maandag – Vrydag 8vm – 5nm.
(U kan my Praktykbestuurder Elizabeth kontak op 021 982 2554)
Ek is beskikbaar vir afsprake tussen hierdie tye:
Maandag 9vm – 5nm
Dinsdag 8vm – 3nm
Woensdag 8vm – 3nm
Donderdag 10:30vm – 6nm
Vrydag: Geen afspraak tye.